Agri Kultuur April / April 2016 | Page 55

Produsente moet seker maak dat hulle genoeg water beskikbaar het om die beplande hektare vrugte te kan besproei, of planne maak om hulle beskikbare water te vermeerder deur nuwe boorgate, groter maak van damme, of beter benutting van bestaande water deur beter grondvogbestuur of besproeiingstelsels wat minder water vermors. Daar moet ook in ag geneem word dat enige nuwe waterbronne of opgaarkapasiteit geregistreer moet word. Beskikbaarheid van arbeid: Wyndruiwe produksie kan al tot ‘n baie groot mate gemeganiseer word tot op die punt waar ‘n ekonomiese eenheid met net ‘n paar trekkerdrywers behartig kan word. Daarenteen vereis die meeste vrugtesoorte groot spanne arbeiders vir take soos snoei, uitdun en oes. Groot kapitale uitleg: ‘n Produsent wat nog nie bestaande vrugteboorde het nie sal baie toerusting soos lere, pluksakke, kratwaens en vurkhysers moet aanskaf aangesien dit glad nie in die wynbedryf gebruik word nie. Baie wingerd spuitpompe is ook te swak om vrugtebome effektief te bespuit en in daardie geval sal nuwe spuitpompe ook aangeskaf moet word, wat weer daartoe kan lei dat sterker trekkers aangeskaf moet word om die groter spuitpompe te sleep. Indien die produsent van ‘n vrugtepakker gebruik gaan maak om sy vrugte te pak, sal hy die vrugte soontoe moet vervoer wat ook verdere kostes veroorsaak. As die produsent sy eie vrugte wil verpak sal ‘n pakstoor en koelkamers opgerig moet word wat ‘n baie groot kapitale uitgawe is, veral aangesien daar op die stadium nie meer finansiële hulp van die Departement van Handel en Nywerheid ontvang word vir die oprig van pakstore en koelkamers soos in die verlede nie. Sommige vrugsoorte kom stadig in produksie: Baie vrugsoorte soos sitrus, appels en pere neem 5 tot 6 jaar om in voldrag te kom teenoor wyndruiwe wat slegs 3 jaar neem. Produsente sal moet seker maak dat hulle genoeg finansiering beskikbaar het om die lang wagtyd te hou voordat die vrugte aanplantings begin om wesenlike inkomste te genereer. Pruime en perskes kom ook soos wyndruiwe vinniger in drag en skep dus nie dieselfde probleem nie. Groter risiko’s: Vrugte is baie meer gevoelig vir haelskade, windskade en reën in oestyd as wyndruiwe en misoeste kom dus meer gereeld voor. Produsente sal moet besin of hulle oesversekering gaan uitneem wat ‘n groot ekstra onkoste beteken en of hulle die risiko self gaan dra. Aangesien ‘n baie groter persentasie van die totale vrugte oes uitgevoer word as van die totale wyndruiwe oes is die wisselkoersrisiko ook baie groter. Op die huidige stadium werk die wissel- koers baie gunstig in die vrugte bedryf se guns, maar dit kan baie vinnig verander. Nuwe toetreders betaal gewoonlik skoolgeld: Soos met enige ander bedryf het nuwe toetreders tot die vrugtebedryf ‘n groot agterstand wat betref tegniese kennis en ondervinding. Elke vrugsoort, en soms ook elke kultivar van ‘n bepaalde vrugsoort, het ander vereistes wat grondvoorbereiding, besproeiing, onkruidbeheer, siekte- en plaagbeheer, bemesting, snoei praktyke en oespraktyke betref. Die kennis wat bestaande vrugteprodusente oor die jare opgedoen het, kan nie gekoop word nie en nuwe toetreders moet aanvaar dat hulle soms foute gaan maak. Nuwe vrugteprodusente moet dus hulle berekeninge eerder meer konserwatief maak en speling toelaat vir foute wat die winsgewendheid negatief kan beїnvloed. Nuwe toetreders word ook aangeraai om soveel moontlik gebruik te maak van die vrugteuitvoerders, chemiese maatskappye en maatskappye wat besproeiїngstoerusting verkoop se tegniese konsultante. Moet ook nie skroom om by bestaande vrugteprodusente aan te klop vir raad nie. Indien al bogenoemde punte goed deurdink word en daar deeglike beplanning gedoen word is daar geen rede hoekom ‘n nuwe vrugteprodusent nie baie suksesvol kan wees nie. Arnand Stofberg – B Agric Admin (US); B Compt (UNISA) Direkteur: Boshoff Visser Worcester (Edms) B pk; Boshoff Visser Groep (Edms) Bpk Tel: 02334 22374 Epos: [email protected] Bostaande is slegs ter inligting en is geensins advies nie. Boshoff Visser raai alle lesers aan om met 'n kundige finansiële adviseur in verbinding te tree voordat enige besluite geneem word