Agri Kultuur April / April 2016 | Page 45

Die Departement Agronomie is onder meer betrokke by navorsing oor verskeie kleingraangewasse waarmee in die Wes-Kaapse winterreënvalgebiede geboer word, insluitend koring, hawer, lupiene, gars en kanola. Met die departement se uitgediende toerusting moes grond tot drie keer bewerk word voordat graan vir navorsingsdoeleindes geplant kon word. Met die minimumbewerkingsmetode hoef ’n boer sy lande net een keer te bewerk. “Bedryfsgerigte navorsing is tot voordeel van die boer, die omgewing en landbou in geheel,” het prof Kotze verduidelik. Hy het die voormalige Amerikaanse president Franklin D Roosevelt aangehaal, wat al in die 1930’s gesê het: “The nation that destroys its soil destroys itself.” André Uys, ’n alumnus van die Fakulteit Agriwetenskappe en besturende direkteur van die Overberg Agri-groep, het beklemtoon dat vennootskappe met veral landboufakulteite ’n uiters belangrike deel van die maatskappy se besigheidsmodel is. “Dit is vir ons ’n voorreg om julle te help, want julle help ons,” het hy gesê. “Ons wil graag deel wees van die navorsings- en opleidingsproses en insette kan lewer. Hy het verduidelik dat studente aan die Fakulteit Agriwetenskappe nie net hul kliënte en werknemers word nie, maar dat Overberg Agri en die boere wat hulle bedien, ongelooflik baat by die navorsing wat in die fakulteit gedoen word. Dick David, bestuurder van Kempston Agri wat CLAAS se agent in Suid-Afrika is, het beaam wat Uys gesê het, en bygevoeg dat CLAAS homself roem op presisieboerdery en doeltreffendheid. “Ons ondersteun graag navorsing wat presisieboerdery bevorder,” het hy gesê. Prof Danie Brink, waarnemende dekaan van die Fakulteit Agriwetenskappe, het gesê die bedryf se ondersteuning is noodsaaklik vir die Fakulteit om sy goeie werk voort te sit. Studente in die Departement Agronomie werk tans aan verskeie bedryfsprojekte en die Fakulteit Agriwetenskappe in geheel het in die 2015 akademiese jaar 38 PhDstudente gegradueer. Vir meer inligting, kontak: Prof Nick Kotze Departementshoof: Agronomie Fakulteit Agriwetenskappe, Universiteit Stellenbosch 083 461 6670 / 021 808 4003 [email protected]