Agri Kultuur April / April 2016 | Page 41

verspreide wortelstelsel, wat die volle potensiaal van die grondprofiel ontgin. Die boer het tog vir die hele grondprofiel op sy plaas betaal, waarom dit nie ten volle benut nie? Oor die algemeen kom 80% van graswortels in die boonste 200 mm grondlaag by meeste veldtipes in Suid -Afrika voor. By veld in ‘n goeie toestand spesifiek, kom 73% en 88% van die wortelmassa in onderskeidelik die boonste 150 mm en 300 mm voor. Dié oppervlakkige wortels is grootliks vir produksie verantwoordelik. Nogtans sorg die wortels wat dieper as 300 mm lê, en maar 12% van die totale wortelmassa beslaan, gewoonlik vir die grasplant se oorlewing in droogtes. Hul waarde moet nooit in ‘n weidingstelsel onderskat word nie. Studies het byvoorbeeld getoon dat Themeda triandra (rooigras) se wortels die grond tot so diep as 2 m binnedring. Hierteenoor kom 44% van die totale wortelmassa van swak veld in die boonste 50 mm van die grond voor. Dié veld kan met wisselvallige reënval nie ‘n stabiele en konstante produksie oor die duur van die groeiseisoen handhaaf nie en is ook net op oorlewing ingestel. Sulke veld reageer slegs vinnig op reënbuie, maar ongelukkig is dit van korte duur en is die plante nie in staat om dieper grondwater te onttrek nie. Uit bogenoemde verspreidingspatroon van die graswortels is dit te verstane waarom weiveld in goeie toestand, weens die benutting van beide opper­vlakkige en dieper grondwater, droogtes beter kan hanteer en 'n meer konstante voervloei en hoër produksie kan handhaaf. ‘n Boer wie se veld swak wortelstelsels het, benut dus net die boonste grondlagie van sy plaas, terwyl gesonde wortelstelsels die voedingstowwe en opgegaarde vog van die hele grondprofiel kan benut. Met veld in swak toestand skep die boer eintlik sy eie droogtes. So ‘n boer se plaas is teoreties dus kleiner as wat werklik op die transport en akte dokument staan. Vertikale uitbreiding in plaas van horisontaal is gevolglik ‘n moontlikheid vir ‘n boer wie se veld in swak toestand verkeer. Die hoër wortelmassa en beter verspreide wortelstelsels wat by veld in goeie toestand voorkom, het ‘n meer groeikragtige plant tot gevolg en die beter weidingkapa­siteit vanaf sulke veld. Dit is daarom nie net meer diere wat op goeie veld aangehou kan word nie, maar die inkomste per eenheid reënval is ook aansienlik hoër as dié van veld in swak toestand. Veld in swak toestand verhoog gevolglik die intensiteit en frekwensie van droogtes wat ‘n normale verskynsel in die droë dele is. Dit is nie die grootte van ‘n plaas wat bepaal of dit ‘n ekonomiese eenheid is nie, maar die toestand of gesondheid waarin die veld verkeer. As in ag geneem word dat ongeveer 80% van SuidAfrika se oppervlakte uit onbewerkbare grond of weiveld, wat slegs deur diere benut kan word bestaan, is dit duidelik hoe geweldig belangrik hierdie hulpbron vir die veeboerdery is. Kennis van die weiveld behoort dus baie hoog op enige grasboer se prioriteitslys te staan. Figuur 1 Wortelverspreiding met diepte