Agri Kultuur April / April 2016 | Page 32

Willem Kilian Dawie du Plessis, LNR Kleingraaninstituut, Bethlehem Daar is tydens die vergadering van die Nasionale Kultivarwerkgroep, wat op 11 Februarie 2016 plaasgevind het, geen veranderinge aan die koringkultivar-aanbevelings onder droëlandtoestande in die Somerreëngebied aangebring vir die 2016 produksieseisoen nie. Die 2015 koringproduksie-seisoen sal onthou word as een wat ’n goeie begin gehad het, maar as gevolg van droogtetoestande gedurende die grootste gedeelte van die groeiseisoen nie die aanvanklike potensiaal kon realiseer nie. Bogemiddelde reënneerslae in Junie en Julie (36 mm in totaal) het verseker dat opkoms en vroeë ontwikkeling nie ’n probleem was nie (Figuur 1). Figuur 1: Reënvalverspreiding (Bethlehem) in die groeiseisoen gedurende 2015 in vergelyking met die 65 jaar langtermyn syfers In die kritiese maande van Augustus tot November was die totale reënval op Bethlehem slegs 58 mm, teenoor die langtermyn gemiddeld van 121 mm vir hierdie tydperk. Die strestoestande waaraan die koringaanplanting onderwerp is, is verder vererger deur temperatuurvlakke veel hoër as die langtermyn gemiddeld (Figuur 2).