Agri Kultuur April / April 2016 | Page 63

Artikel en foto voorsien: - Dr Gerhard Verdoorn: Predasie Bestuursforum M y onlangse versoek aan veeboere en jagters om inligting oor rooijakkalse met moontlike brandsiekte aan te meld, het 'n wye reaksie uitgelok. Brandsiekte wat deur sarkoptiese myte veroorsaak word, is 'n ernstige kondisie veral as dit onder wolskape uitbreek. In die ou dae was dit so ernstig dat die staat spesiale inspekteurs ontplooi het om plase te besoek en dipprogramme af te dwing. Die Karoo is 'mak' gedip met die ou arseendipstowwe en mens kan met angs dink aan wat alles in die proses ingeboet is. Later van tyd is minder gevaarlike dipstowwe gebruik en deesdae is daar verskeie dipstowwe wat die myte effektief beheer, maar met relatief min risiko vir die natuurlike omgewing. Wat verstommend was, was dat daar verslae uit alle oorde in SuidAfrika was oor brandsiekte onder jakkalse. In die verre noorde is daar jakkalse aangeteken waarvan die sterte heel haarloos was en die agterlywe ook maar skraal aan die harekant was. Uit die Karoo berig boere en jagters dat daar dikwels jakkalse met ernstige brandsiekte waargeneem of geskiet word. Uit die Oos-Kaap is mooi foto's ontvang van brandsiek jakkalse in die Addoomgewing en so ver oos as Grahamstad. In die Kalahari is daar ook brandsiek jakkalse aangeteken en dit is interessant omdat mens die persepsie het dat die Kalahari sulke peste vryspring. Daar is 'n moontlike verklaring vir brandsiekte onder jakkalse naamlik dat wanneer 'n spesie se bevolking uitermatig aanteel die spesie onder stres kom en natuurlike elemente soos siektes die spesie se bevolking kan uitdun. Boere in die Karoo weet dat dassies toeneem totdat die witkruisarende ook nie meer 'n duik in die bevolking maak nie en dan skielik tref 'n virus die dassies en wis hulle prakties gesproke uit. Nou is die vraag of dit met die rooijakkals ook kan gebeur? My standpunt is dat dit wel kan gebeur: ek jag op 'n reservaat naby Mapungubwe met 'n baie gesonde ekologie waarvan die rooijakkals deel is. In die jaar 2005 het die reservaat so vervuil van rooijakkalse geraak dat die eienaars my versoek het om hulle uit te dun. Ek het hulle oorreed om op die tande te byt en die winter van 2006 het die brandsiekte toegeslaan en die bevolking 'n ernstige knou gegee. Ek was verstom om feitlik geen jakkalse sonder brandsiekte te sien nie. Daar was weliswaar ook enkele rooibokke met effense haarverlies maar geeneen het gevrek nie terwyl die jakkalse soos nuwe swart kleurvariante gelyk het! Mens wonder of die siektes soos brandsiekte nie dalk op 'n stadium in die veeboerderygebiede die rooijakkalse 'n knou gaan gee nie? Ekologies maak dit sin maar of dit verwerklik sal word, is 'n ope vraag. Louis Meaker se foto van 'n brandsiek jakkals is miskien iets wat veeboere voor moet uitkyk en laat weet as daar sulke diere waargeneem word. Vir verdere navrae skakel vir Dr Gerhard Verdoorn by 082 446 8946 of stuur e-pos na [email protected].