AGRI AQUA KULTUUR / CULTURE AGRI AKWA AQUA KULTUUR / CULTURE 2016 | страница 2
Deur Jannie van Niekerk
Kosie se Restaurant
E
k hou die restaurant oorkant my huis
dop. Dit is vakansietyd. Piet Café
maak vandag weer sakke vol geld
uit honger toeriste. Dan sien ek
haar. Ou Tenk. Sy het vir ons wiskunde op
skool gegee. Dit is sy, weliswaar baie ouer as
toe ons op skool was, maar die waggelstappie en logge liggaam sal ek oral herken.
Ons het immers onder haar tirannie deurgeloop soos wat die Jode onder Hitler gedoen
het.
Op ‘n dag het sy weer gesukkel om wiskunde
in ons koppe te kry. Dit was ongeveer ons
standerd sewe jaar. Kosie kon maar net nie
Ou Tenk se verduidelikings snap nie. Dit is
toe wat sy vir Kosie sê: “Jy sal nêrens in die
lewe kom nie. Jy is net goed om varke kos te
gee.” Ons was almal geskok oor die verbale
teistering, maar daardie jare het onderwysers
carte blanche gehad om te sê en doen wat
hulle wil. Kosie het einde standerd agt uit die
skool gegaan. Hy het homself by die hotelskool gaan bekwaam in restaurantbestuur.
Jare later het ek Kosie weer raak geloop. Hy
was toe eienaar van ‘n hele reeks bekende
restaurante in ‘n hele paar dorpe. Skatryk, en
hy geniet elke oomblik van die dag wat hy
doen.
Hy vertel toe vir my dat Ou Tenk op ‘n slag by
een van sy restaurante kom eet het. Hy reël
toe met sy kelner dat hy haar tafel sal bedien.
Kosie gaan groet haar en verduidelik wie hy
is. Of sy hom onthou het, weet hy nie. Toe
Kosie die spyskaart oorhandig, sê hy vir haar:
“Juffrou het mos in ons standerd sewe jaar vir
my gesê ek sal eendag net goed genoeg
wees om varke kos te gee. Hier is die
spyskaart, wat kan ek vir Juffrou bring?”
Wat kan ek vir
juffrou bring?